RESENSIES OOR “SELEKSIES UIT DIE BRIEWE VAN PRESIDENT M T STEYN, 1904-1910 “

REVIEWS OF “SELECTION OF THE LETTERS OF PRESIDENT M T STEYN, 1904-1910

 

Jaap Steyn in die Volksblad

Moedertaalonderrig en ander taalregte is twee van die belangrikste aktuele sake wat na vore kom in ’n boek met briewe van pres. M.T. Steyn, laaste president van die Vrystaatse republiek. Uit die briewe blyk ook die deurslaggewende rol wat Steyn en ’n ander Vrystaatse leier, genl. J.B.M. Hertzog in 1908 gespeel het om gelyke taalregte vir Afrikaans- en Engelssprekendes te verseker.

 

Hierdie boek is Seleksies uit die briewe van president M.T. Steyn 1904-1910 / Selections from the letters of President Steyn 1904-1910. Dit is op 25 November in die Oorlogsmuseum bekend gestel.

 

By dié geleentheid het twee redakteurs van die boek toesprake gehou, naamlik prof. Elizabeth van Heyningen, ’n historikus van die Universiteit van Kaapstad, en prof. Chris van der Merwe, oudprofessor in Afrikaans en Nederlands aan dieselfde universiteit. Hy het die Afrikaanse en Nederlandse briewe in Engels vertaal. Die ander redakteur, dr. Con de Wet, oudhoof van die Kaapse Argiefbewaarplek, kon nie teenwoordig wees nie.

 

Tussen 1904 en 1910 was Engels die enigste onderwys- en amptelike taal in al vier Britse kolonies: die Kaapkolonie, Natal en die twee gewese republieke van die Vrystaat en Transvaal. Afrikaner-taalaktiviste soos Steyn het hulle beywer vir die herstel van Hollands.

 

Waarom Hollands? Die rede was dat die Vrystaat en Transvaal “Hollands” as amptelike taal gehad en daarmee bedoel het Nederlands as skryftaal en Afrikaans en Nederlands as spreektaal. Die wette en ander amptelike stukke is in Nederlands gepubliseer, maar in die Volksrade en selfs die Kaapse parlement is Afrikaans gepraat.

 

Die Afrikaanse taalbeweging was nog in sy beginstadium. Ook Steyn het gesukkel met die Afrikaans. Aan ’n Johannesburgse vriend, die regsgeleerde en politikus, Jaap de Villiers, skryf hy in November 1905: “Soos jy sien is my Afrikaan[s] nog een beekie deur makaar. Wat maak jelle met de z en ch. Gooi jelle hulle weg?”

 

Verskeie briewe handel oor die onderwys en die stigting van die Christelike en Nasionale Meisieskool Oranje. Belangrike briewe handel oor die Nasionale Konvensie, wat ’n grondwet vir die Unie van Suid-Afrika moes opstel.

 

Vir die Engelssprekendes was dit vanselfsprekend dat Engels die enigste amptelike taal moes wees. Hertzog en Steyn se oogmerk was amptelike status vir Hollands maar veral gelyke behandeling van Hollands en Engels. Amptelike status waarborg nie gelyke behandeling van die tale nie, soos dit ook dekades later sou  blyk uit die toepassing van die taalklousule van die 1996-grondwet.

 

Steyn het in 1908 sy standpunt hieroor aan verskeie openbare figure gestel. Onder meer het hy aan die premier van die Kaapkolonie, John X. Merriman, asook aan ’n ander Kaapse politikus, J.H. (“Onze Jan”) Hofmey, laat blyk dat hy nie aan die onderhandelings wil deelneem as hy daar met ander Afrikaners oor die taalkwessie moet baklei nie.

 

Laat in Junie 1908 het genl. Louis Botha, eerste minister van Transvaal, Steyn op sy plaas besoek en gepleit om die Konvensie by te woon. Botha skryf aan Merriman dat Steyn vanweë die taalkwessie nie na die konvensie wou gaan nie. Botha het toe aan hom die versekering gegee dat Hollands en Engels absolute gelykheid sal geniet.

 

Daarmee het Steyn eintlik reeds die eerste ronde van die taalstryd gewen. Die kwessie het in Oktober 1908 in Durban aan die orde gekom. Daar was onder die konvensiegangers verskillende menings oor taalgelykheid. Twee konsepvoorstelle, dié van Merriman en genl. Jan Smuts, het nie ver genoeg gegaan vir Hertzog en Steyn nie.

 

Smuts het wel twee amptelike tale voorgestel, maar het nie gespesifiseer wat “amptelike taal” presies inhou nie. Hy het slegs die parlement en die geregshowe in sy voorstel genoem.

 

Terwyl vier lede van die Vrystaatse afvaardiging– Hertzog, Steyn, Abraham Fischer en genl. C.R. de Wet – met die trein op pad was na Durban, het Hertzog ’n konsep opgestel wat hulle al vier gesteun het. Dit het voorsiening gemaak vir gelyke regte, voorregte en vryhede vir Engels en Hollands in alle kantore en funksies van die staat.

 

Die konsep is onder die afgevaardigdes versprei. Sommige Afrikaners was “skugter en terughoudend” hieroor, aldus C.M. van den Heever (Hertzog se biograaf) en onwillig om dit te steun as die Engelse lede nie daarvoor te vinde was nie. Hertzog het hulle dit baie kwalik geneem. Taalgelykheid was vir hom die hoeksteen van unifikasie.

 

Die meeste Engelssprekende afgevaardigdes wat die Hertzog-mosie gelees het, was volgens die historikus L.M. Thompson ontsteld daaroor. Dit het vir hulle na gedwonge tweetaligheid gelyk.

 

Dit het ook bekend geraak dat Hertzog en Steyn van plan was om hulle aan die konvensie te onttrek as voorstel verwerp word. Tydens informele samesprekings het Hertzog die deel van sy voorstel laat vaar wat die Engelssprekendes so ontstel het. Die essensie, gelyke regte, is behou.

 

Op die dag van die taaldebat, Maandag, 19 Oktober, is dit veral pres. Steyn se toespraak wat groot indruk gemaak het.

 

Hy het gesê dat Hollands op een of ander tydstip die ampstaal van al die kolonies was. “Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor. Vir geweld moes ons swig. Die Konstitusie wat ons nou gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons volk in ’n onderdanige posisie sal gaan plaas nie. As ons dit sou doen, sal die volk nimmer sy goedkeuring daaraan heg nie, en in plaas van vereniging sal ons Suid-Afrika nog meer verdeel.” Die gelykheid van die tale is die simbool van die gelykheid van die volksgroepe, het hy gesê. Ná dié toespraak het niemand die beginsel van taalgelykheid teengestaan nie.

 

Later die dag is ’n bietjie aan die bewoording geskaaf. Die mosie is op 20 Oktober om taktiese redes nie deur Hertzog nie, maar deur sir George Farrar ingedien. Dit het bepaal dat Hollands en Engels die amptelike tale is, op ’n voet van gelykheid behandel sal word en gelyke vryhede, regte en voorregte sal  besit.

 

Dit is met toejuiging aanvaar. Genl. Hertzog het opgetoë op sy aantekeninge neergeskryf “Groote ovewinning”. Dit was inderdaad ’n groot oorwinning, ook vir Afrikaans. In die Volksraad het Hertzog later gesê dat hy met “Hollands” Afrikaans bedoel het. “As ons Nederlands bedoel, dan praat ons van Hoog-Hollands. Hollands is die geykte term. Hollands as taal van Suid-Afrika beteken Afrikaans en niks anders nie.”

 

 

LitNet

Die Van Riebeeck Vereniging / Van Riebeeck Society (VRS), wat in 1918 ontstaan het met die doel om rare dokumente in verband met Suider-Afrikaanse geskiedenis te publiseer, staan op die punt om hulle eeufees te vier. “Van Riebeeck” in die vereniging se naam was in 1918 ’n kompromis tussen die name van Kruger en Rhodes, wie se name ook beide in die hoed was, maar ook Van Riebeeck is deesdae nie meer so ’n neutrale naam nie. Of die naam Van Riebeeck sal oorleef of nie, sal die tyd leer, maar dit is deur die beskikbaarstelling van primêre bronne dat die VRS ’n unieke en waardevolle rol speel, deur argiefbewaarplekke se versamelings te sif en die rekords sorgvuldig te organiseer, te kontekstualiseer en te annoteer, waarna dit gedruk en versprei word aan lede en aan die publiek.

Die nuutste volume van die VRS fokus op die briewe van president Marthinus Theunis (MT) Steyn (1857–1916), wat vanaf 1896 tot 1902 gedien het as president van die Oranje-Vrystaat, wat op daardie stadium ’n onafhanklike Boererepubliek was. Steyn het op die betreklik jong ouderdom van 38 president geword, nadat hy as prokureur-generaal van die Oranje-Vrystaat gedien het. Hy wend ’n noemenswaardige poging aan om die dreigende oorlog tussen Brittanje en die Zuid-Afrikaansche Republiek te verhoed, maar word uiteindelik ingesleep in die oorlog weens ’n militêre ooreenkoms tussen die twee Boererepublieke. Steyn was ’n “bittereinder” tydens die oorlog – ’n feit wat sy aansien onder baie mense vir die res van sy lewe verhoog het – maar weens ’n senuweesiekte is sy politieke loopbaan kortgeknip. Ten spyte van die uitdagings wat sy siekte hom gebied het, het hy nogtans op sy unieke manier ’n interessante invloed op die politieke ontwikkeling van die naoorlogse gebeure uitgeoefen.

Die briewe wat in hierdie publikasie opgeneem is, is onder meer versamel uit die Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek, die Nasionale Argief in Pretoria, die Nasionale Biblioteek in Kaapstad, die Suid-Afrikaanse Instituut in Nederland en die Wes-Kaapse Provinsiale Argiefbewaarplek. Sommige van die briewe was reeds voorheen ten volle of gedeeltelik gepubliseer, byvoorbeeld in Karel Schoeman se boek In liefde en trou: die lewe van pres. en mev. MT Steyn (Human & Rousseau, 1983). Die briewe volg chronologies op mekaar en is opgedeel in ses afdelings, by name “Europa, 1904”, “Die terugkeer na Suid-Afrika, 1905”, “Opvoeding en nuwe grondwette, 1906”, “Selfregering, 1907”, “Die weg na Uniewording, 1908” en laastens “Die Nasionale Konvensie (12 Oktober 1908 – 11 Mei 1909) en Unie”.

Steyn se gesondheid het hom reeds tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902) begin kwel, en weens die aard van die siekte, wat ’n soort senuweesiekte was, moes hy behandeling in Europa ontvang. Hy het egter nooit volkome herstel nie, en het homself in die jare na sy terugkeer na Suid-Afrika besig gehou met sy boerdery en sake soos die onderwysstelsel en die oprigting van ’n monument ter herinnering aan die lyding van vroue tydens die oorlog.

In die vorige volume van die Van Riebeeck Vereniging, ’n ongepubliseerde outobiografie en versameling skryfwerk van die African National Congress-leier Richard Victor Selope Thema (1886–1955), was die boek voorsien van ’n ingebinde boekmerk van lapmateriaal – iets wat nogal verwagtinge geskep het vir al die toekomstige volumes, weens die gerief daarvan, maar wat skielik nou weer afwesig is. Daar is ook ’n lastige aantal voetnote wat verwys na die aanlyn ensiklopedie Wikipedia, wat ’n bietjie akademies lomp voorkom, en waarvoor ander goeie sekondêre bronverwysings beter sou gedeug het.

Steyn se briewe is in drie tale geskryf na gelang van aan wie die brief gerig was: Nederlands, Engels en ongestandaardiseerde Afrikaans. Hoewel Steyn simpatie met die ontwikkeling van Afrikaans getoon het, was hy self nie iemand wat die taal liberaal geskryf het nie, en het hy skynbaar verkies om eerder in Nederlands te skryf. Al die Nederlandse en Afrikaanse briewe in die boek is in Engels vertaal. In die gevalle waar briewe vertaal is, verskyn die annotasie slegs by die Engelse teks, wat beteken jy moet na die vertaling toe blaai as daar ’n naam of saak is wat aan jou onbekend is. Nogtans is hierdie volume weer ’n wonderlike toevoeging tot die Van Riebeeck Vereniging se lang lys van gesogte publikasies.

Daar is baie ooreenkomste tussen wat in 1910 gebeur het en wat in 1994 in Suid-Afrika gebeur het in Suid-Afrika. Daar is ook in 1910 gepraat van ’n “Nuwe Suid-Afrika”. “Rassespanning” was die spanning tussen Afrikaanssprekende wittes en Engelssprekende wittes, en hulle moes ook versoen en integreer. En mense het ook verskillende idees gehad oor hoe dit alles moes werk.

Om al hierdie redes en nog vele meer is MT Steyn se briewe ’n aangename leeservaring. Steyn se gesondheid word dikwels bespreek in die briewe, en so ook sake soos internasionale politiek en die sosio-ekonomiese omstandighede van Suid-Afrika na die oorlog. Steyn se grootste amptelike bydrae na afloop van die Suid-Afrikaanse Oorlog was sy rol by die Nasionale Konvensie van 1908, waar hy as visevoorsitter van die konvensie gedien het. Nodeloos om te sê word daar ook heelwat oor die unifikasie van Suid-Afrika in die briewe aangetref. Hoewel die verwagting by Steyn se ondersteuners bestaan het dat hy meer betrokke sou wees by die politiek na afloop van die oorlog, en moontlik selfs as die eerste eerste minister van die Unie sou dien, is die moontlikheid uit die weg geruim op advies van Steyn se dokter in Europa, wat hom afgeraai het om weer tot die aktiewe politiek toe te tree.

MT Steyn was ’n nasionalistiese Boereleier tot aan die einde van sy lewe en sy liefde vir die Nederlandse en Afrikaanse tale vind sterk neerslag in sy briewe. In verband met die letterkunde skryf hy byvoorbeeld: “Om te denken dat gij in onzen tijd een taal kunt in leven houden zonder een literatuur is even zoo onverstandig als om te trachten een huis in de lucht te bouwen zonder een fondament” (22). In een van die min briewe wat in Afrikaans geskryf is, worstel Steyn met die taal sonder reëls: “Soos jy sien is my Afrikaan[s] nog een beekie deur makaar. Wat maak jelle met de z en ch. Gooi jelle hulle weg. Ik schryf nou niet meer nie. Ons zal later praat” (61).

Ten spyte hiervan was Steyn geen aardskonserwatiewe nasionalis nie, en was hy ook gekenmerk aan ’n ruimheid van gees, onder meer in sy idees oor gender, wat liberaal was vir sy tyd, aangesien hy volgens die redakteurs van die boek waarskynlik simpatiek sou staan oor die kwessie van vrouestemreg. Daarby het Steyn sy lewe lank bande gehandhaaf met figure wat baie Boere as "volksvreemdes" sou beskou het.

Die laaste groot politieke krisis waarby Steyn ingetrek is, was die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918), waar voormalige Boeregeneraals teen mekaar gedraai het in wat vandag populêr bekendstaan as die Rebellie van 1914. Toe dit duidelik word dat daar konflik op die horison is, het die eerste minister, generaal Louis Botha (1862–1919), hom tot MT Steyn gewend om die rebelle, onder wie generaal CR de Wet (1854–1922), te probeer oortuig om nie wapens op te neem teen die regering nie, maar die versoek het Steyn se gemoed verdeeld gelaat, en sy tanende gesondheid het waarskynlik ook later daartoe bygedra dat die versoeningspogings nie geslaag het nie.

MT Steyn is op 28 November 1916 oorlede. Daar is nie briewe in hierdie versameling opgeneem uit die laaste jare van Steyn se lewe nie, maar danksy hierdie publikasie kan daar nuwe insigte verkry word in die naoorlogse rol van hierdie gerespekteerde staatsman.